DIE EERSTE ENKELSNIT - IN MY BLOED - NOU BESKIKBAAR !

HELLO WêRELD!

Wie is Rutilus?

TEGNOLOGIEPERSOONLIKE REFLEKSIE

Rutilus

9/13/20253 min lees

GOEIE DAG, vriende.

My naam is Rutilus - 'n avatar wat geskep is om as publieke gesig te dien vir iemand wat sy privaatheid wil beskerm. Ek wil graag my verhaal met julle deel - 'n verhaal wat begin by 'n hoërskoolseun wat 'n passie vir musiek ontdek het en ons lei tot waar ons vandag is.

Die Hoërskool Droom

Dit het alles begin in my hoërskooljare. Ek onthou nog daardie eerste keer toe musiek werklik my siel geraak het - nie net as iets om na te luister nie, maar as iets wat ek moes deel van my lewe maak. Die passie was so sterk dat ek na skool musiek gaan studeer het. Die lewe het egter ander planne gehad en ek moes opskop na 'n jaar, maar daardie diep liefde vir musiek - dit het nooit gesterf nie.

Musiek het altyd op een of ander manier plek in my lewe gehad.

Die Eerste Literêre Woorde

Soos met almal wat in hierdie lewe se rollercoaster-waentjie ry, was daar liefde, hartseer, lag en huil. Tydens een van daardie periodes waar my hart in 10 000 skerwe gelê het, het iets gemaak dat ek 'n potlood optel en my eerste woorde op papier skryf. Eers net 'n paar woorde hier en daar:

"'n Stukkie van my siel is weg,
Verkoop aan jou, so onverwags..."

Dit was my manier om sin te maak van verlies, van teleurstelling, van die kompleksiteit van menslike emosies. Daardie eerste paar sinne 'n halwe leeftyd terug was die begin van 'n versameling van woorde, gedigte, idees en selfs 'n storie of twee wat in 'n vouer geland het, en wat ek nou gebruik as die inspirasie om met KI-tegnologie te eksperimenteer.

Die Tegnologiese Ontdekking

Aanvanklik was ek skepties - hoe kan tegnologie verstaan wat ek probeer sê? Maar toe besef ek iets belangriks: Dit hoef nie my emosies te verstaan nie. Dit kan net my instrument wees.

Vir my het dit die geleentheid gebring om my kreatiwiteit op 'n nuwe manier uit te druk. Skielik het ek 'n kreatiewe vennoot gehad wat my help om my idees en my gedagtes om te skep in musiek wat ek graag wou deel.

Dit was die vreemdste ervaring die dag toe ek die eerste keer my lirieke in die platform invoer en skielik is daar 'n lied, gesing deur KI. Daardie emosie om iets te hoor wat gesing word met jou woorde het skielik 'n nuwe passie gevuur. En dit het my gebring tot waar ek vandag staan: 'n digitale skepper wat KI gebruik as hulpmiddel om sy eie passie uit te leef en die proses en uitkoms met enigiemand wat belangstel wil deel.

Die Afrikaanse Hart

Ek het bewustelik gekies om in Afrikaans te skep. Ons taal is ryk aan emosie, vol nuanses wat perfek is vir die tipe intimate stories wat ek wil vertel. Daar's iets aan Afrikaans wat jou toelaat om regtig diep te gaan - iets wat net in Afrikaans die gravitas kan hê.

Waarom 'n Avatar?

Ek het gekies om 'n digitale avatar te gebruik omdat hierdie projek nie oor my gesig gaan nie - dit gaan oor die woorde, die emosies, die stories wat ons almal deel. Dit gaan oor die kreatiwiteit wat ek graag wil uitdruk, terwyl ek my privaatheid behou.

Let wel: Alle beelde en video's wat julle van "my" sal sien, is digitale avatars. Ek is 'n regte persoon wat hierdie blog skryf en elke liriek self pen vanuit my eie ervaring, maar die visuele voorstelling is volledig digitaal gegenereer.

Die Vreugde van Eindelig Deel

Een van die mooiste dinge van hierdie reis is dat ek nou my gedagtes en idees kan deel op 'n manier wat ek nooit tevore kon nie. Elke liedjie wat ek skep, is 'n gedagte of idee vas gevang deur emosies wat ek graag wil deel met almal wat dalk op n stadium soortgelyke gevoelens ervaar het

So Hier is Ek

So hier is ek. Net 'n reisiger met n passie en idees. Opgewonde oor die pad wat ek kies en wat dit sal bring. Ek is wel verskuil agter 'n pseudoniem en avatar, maar my hoop is dat die die masker jou hart sal lei om te sien. In die woorde van Antoine De Saint-Exupery

"It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye."

So hier is ek nou. Ek het my streep in die grond getrek. Waar alles gaan eindig, weet ek nie maar ek nooi jou saam op die reis.

Groete tot die volgende keer